2. Die omstandighede was dié van afsondering (Hy was heeltemal alleen) en nie ter wille van 'n gehoor gedoen nie;
3. Hy het God met die volmaakte gesindheid genader (dringend, maar sonder om God se arm te probeer draai);
4. Hy het die gepaste houding gehad (Met nederigheid en onderwerping );
5. Daar was ‘n duidelike en spesifieke inhoud in sy gebed – (laat hierdie beker by my verby gaan);
6. Dit was ‘n gebed met die geloof wat berge kon versit (Vader, alles is vir U moontlik);
7. Dit is met onwrikbare vertroue gedoen (nogtans nie my wil nie, maar U wil);
8. Dit is met uiterste konsentrasie en inspanning gedoen (Sy sweetdruppels het in bloed verander);
9. Dit was ‘n volhardende gebed (Hy het drie maal gebid – die volmaakte getal).Tog het God hierdie volmaakte en aangrypende gebed nie geantwoord, op die manier wat Jesus dit sou wou hê nie! En ten spyte daarvan, bly Jesus getrou en gehoorsaam aan die opdrag wat God vir Hom gegee het. Jesus word hiermee die volmaakte tussenganger tussen ons – Hy identifiseer volledig met ons – en God – en Hy bly gehoorsaam tot die dood toe. Ons verstaan moeilik die radikaliteit van hierdie gehoorsaamheid. Wanneer Jesus aan die kruis hang, nadat God die Vader sy versoek weier, staar Hy nie net die dood in die oë nie. Hy staar die verwydering van God se teenwoordigheid, van Sy Gees, in die oë. Dit is soos 'n afgrond wat voor Hom oopmaak, 'n donker bodemlose put, waar Hy God en Homself moet laat los, sy eie mag moet prysgee, moet besluit om nie op te tree nie, die onreg en die geknoeiery en die verraad moet verdra, en iets moet deurmaak waarvan Hy die hoop het dat Hy daarvan verlos sal word, maar nie self die hoop kan waarmaak nie. Hy is volledig afhanklik van God die Vader. Dit is die krisis van die kruis – dat die toeganklikheid van God vir Hom toegesluit word; dat die gemeenskap wat Hulle ononderbroke van voor die begin van alles af gehad het, deurbreek word; dat die teenwoordigheid van die Gees in sy lewe tot niet gaan; dat Hy die alleenheid van die niks moet trotseer, van nie-wees, van nie-bestaan, van nie-mand wees. En al wat Hom laat volhard aan die kruis, is sy vashou aan die hoop op verlossing, die hoop op die opstanding, die hoop op die herstel van God se teenwoordigheid. En daarom gee Hy sy Gees terug aan die Vader, in die hoop dat die Vader dit vir Hom sal teruggee. Ons navolging As ons nadink oor die effek van dié boodskap op ons eie lewe, dan kan ons vier goed daaroor sê: Eerstens: Jesus het gesterf sodat ons nooit weer op dieselfde wyse deur God verlaat sal word nie. Daar is niks wat ons kan skei van die liefde van God in Jesus Christus nie. Tweedens: Jesus het gesterf om vir ons 'n vrye toegang na sy Vader te verwerf. Gelowiges kan op grond van Jesus se hoëpriesterskap met vrymoedigheid (parresia) na die genadetroon gaan. Parresia het in sekulêre Grieks gedui op die vryheid van spraak wat die vryburgers van ’n stad geniet het. Gelowiges het egter méér as vryheid van spraak (d.m.v. gebed) in God se troonkamer. Hulle het die sekerheid dat hulle daar oorvloedige barmhartigheid en genade sal ontvang. Ons kan dus dag en nag met God praat en ons kan weet dat Hy ons hoor en verhoor. Jesus is in die hemel om dit vir ons te verseker. Derdens: Jesus kan na sy dood ons nog beter bystaan in die krisisse wat ons self moet deur. En dan bedoel ek spesifiek die krisis van gebede wat anders beantwoord word as wat ons dit vra. Dit is immers so dat ons nie alles kry waarvoor ons vra nie. Ons het ook ons eie kwota ongeluk en lyding en siekte en onreg wat ons kant toe kom, wat nie deur gebede voorkom kan word nie. Selfs wanneer ons gebede en lewenstyl in ons eie oë voldoen aan al die voorwaardes wat die Woord vra, weet ons mos dat God soms vir ons “Nee” sê, en dat daar slegte dinge oor ons pad kom. Maar die kruis van Jesus help ons om verder te kyk as die krisis self. Toe God Jesus se gebedsversoek geweier het, het Hy die redding van die mensdom in gedagte gehad. Hy het Nee gesê op die spesifieke gebedsversoek, omdat Hy ‘n veel wonderlike en heerlike verlossing waar wou laat word. Hy het dus geantwoord, maar nie soos Jesus dit wou hê nie. Al is dit vir ons moeilik, moet ons ook ons “onverhoorde gebede” in die raamwerk van God se plan plaas en moet ons in ons eie krisisse ons vertroue in God plaas – soos Jesus gedoen het! Gewoonlik sien ons nie die groter prentjie onmiddellik raak nie en soms sien ons dit nooit raak nie. Dit is wat 'n krisistyd so intens kan maak. En dan nog steeds moet ons ons hoop en ons vertroue in God plaas. Vierdens: Jesus moedig ons aan om op dieselfde manier as Hy regtig om te gee vir mense Jesus sit op hierdie Goeie Vrydag ons voete uit dankbaarheid in beweging na ’n wêreld wat verlang na iemand wat regtig omgee, sodat hulle deur ons liefde kan weet daar is Iemand wat regtig omgee ... Jesus, die bron van ewige saligheid (vers 9). En as dít die enigste effek is wat Goeie Vrydag op ons het vandag, dan was dit ook al genoeg.