2. Toe het ek gedink genoeg is om genoeg geld te hê, sodat ‘n mens maklik alles kan betaal
elke maand en nog oorhet vir lekker dinge. Ook dat genoeg is om genoeg water te hê
sodat alles met oorgawe in my tuin natgemaak kan word. Ek het gedink genoeg is om
genoeg dinge te leer en te bestudeer sodat ‘n mens slimmer kan word, jou besigheid kan
uitbrei en meer geld kan verdien. Ek het gedink, genoeg is om genoeg goed te hê, sodat
‘n mens nie kortkom nie.
Maar nou dink ek anders, want ek weet nou wat genoeg is. Genoeg is om elke dag
genoeg kos te hê vir dáárdie dag. Genoeg is om vetplantjies wat vanself in my tuin lewe,
met bewordering te kan bekyk. Genoeg is om te sien hoe wasmasjien water my gras
groen maak en genoeg is om die son te voel as dit laatmiddag pienk op my vel skyn.
Genoeg is om my kinders te hoor lag en genoeg is om my man se hand vas te hou.
Genoeg is in die berge en genoeg is by die see. Genoeg is op my bed en genoeg is in ‘n
koppie tee.
3. Genoeg is om te weet ek sal weer lag as ek nou wil huil. En genoeg is kruisbeen bank
sitte saam met my meisiekind om die lewe van alle kante af te bekyk. Genoeg is om
vroeg-oggend lug te kan inasem, en vuur te kan maak in die kaggel. Om vriendinne te hê
wat vir my mooi prentjies wys en mentors wat my leer om te skryf. Om liefgehê te word al
stoei ek met die lewe en om vasgehou te word al sukkel ek met praat. Genoeg is om nie
vyande te hê nie en genoeg is om sonder kwaad te gaan slaap.
Genoeg is om nóg planne te maak as planne op is en om nuut te kyk as dinge wéér
dieselfde lyk. Om te kan afgee as jy wil vashou en te kan aangee as jy wil neersit.
Genoeg is in liefde, genoeg is in saampraat, genoeg is in eenvoud en genoeg is in afskaal.
4. Ek het gedink genoeg is soveel as wat nodig is, maar ek weet nou wat genoeg is.
En ek wil nóg hê ... van genoeg.